Dit kan nie genoeg beklemtoon word dat die Bybelgenootskap die allergrootste respek het vir die Bybel as Woord van God en daarom geen steen onaangeroerd laat om die betroubaarste Hebreeuse, Aramese en Griekse brontekste vir sy Bybelvertalings te gebruik nie. Enige bewering of insinuasie dat dit nie die geval is nie en dat die sogenaamde Textus Receptus eerder gebruik moet word, is gebore uit misverstand, wantroue of blote onkunde. Hoe groot hierdie wanopvatting is, blyk onmiddellik wanneer ons kyk na die onderstaande neutedop vergelyking tussen die Textus Receptus en die jongste gedrukte Nuwe-Testamentiese bronteks van die United Bible Societies (die sogenaamde UBS-teks) wat Bybelvertalers vandag oor die hele wêreld as gesaghebbend erken en gebruik:

Die UBS teks Die Textus Receptus
  1. Meer as 5 000 Griekse tekste van die Nuwe Testament, waarvan sommige selfs tot op die 2de en 3de eeue nC teruggaan, is wetenskaplik bestudeer, volgens sorgvuldig opgestelde kriteria geëvalueer, en die mees betroubare Bybelteks is daaruit saamgestel.
  2. Hierdie teks is die gesamentlike produk van 'n groot aantal toegewyde spesialiste op die gebied van die Tekskritiek van die Nuwe Testament. Die UBS teks wat vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling gebruik word, is na baie vooraf studie en raadpleging gefinaliseer deur 'n eindkomitee van vyf internasionale spesialiste wat as gelowiges 'n groot deel van hulle lewe daaraan gewy het om die oorspronklike Bybelteks so betroubaar as moontlik te bepaal.
  3. Om die bogenoemde redes kan die bronteks wat vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling gebruik word, werklik vertrou word. Uiteraard bestaan daar nog gevalle van onsekerheid, maar hierdie bronteks is veel nader aan die oorspronklike as wat die geval was met die Textus Receptus.
  1. Slegs 6 Griekse tekste van die Nuwe Testament is gebruik, waarvan die heel oudste eers uit die 10de eeu en van die ander so laat as uit die 15de eeu nC (!!) dateer. Vir Openbaring is net een manuskrip uit die 12de eeu gebruik en vir die laaste 6 verse moes as noodmaatreël 'n terugvertaling uit die Latynse Vulgaat gemaak word.
  2. Die Textus Receptus is man alleen deur Desiderius  Erasmus saamgestel. Hy was 'n groot wetenskaplike en het die beste gebruik gemaak van sy beskikbare bronne, maar daardie bronne was beperk, van mindere kwaliteit en wetenskaplike teksvergelyking was op daardie stadium nog in sy kinderskoene. Gevolglik vertoon die Textus Receptus ongelukkig talle afwykings van die beste brontekste waaroor ons vandag beskik. Die Textus Receptus is weliswaar deur persone soos Stephanus en Beza gekorrigeer, maar sy basiese swakhede is nie aangespreek nie.
  3. Die geliefde 1933/1953-Bybelvertaling, wat een van ons kosbaarste Afrikaanse kultuurskatte is, het nog wat die Nuwe Testament betref op die Textus Receptus berus. Daarom sou dit, ten spyte van die genoemde vertaling se pragtige kwaliteite, getuig van onkunde en ‘n misplaaste piëteit om die 1933/1953-vertaling teen die 1983-vertaling of Die Bybel: 'n Direkte Vertaling af te speel.

 

Wat hierbo in 'n neutedop saamgevat is, kan nou verder uitgespel word:    

Die Bybelgenootskap gebruik slegs die beste en betroubaarste brontekste in sy Bybelvertalings. Hierdie brontekste is die resultaat van intensiewe navorsing en word sonder uitsondering deur alle Bybelgenootskappe oor die wêreld vir amptelike vertalings gebruik.

Bewerings word soms gemaak dat die brontekste vir die 1983-vertaling, asook vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling (wat tans vertaal word), “vervals en korrup” is en dat die sogenaamde Textus Receptus die enigste betroubare bronteks is. Navorsing oor die oorspronklike bewoording van antieke dokumente waarvan die oorspronklike handskrifte nie meer bestaan nie, is 'n uitgebreide en gesofistikeerde wetenskap wat bekend staan as tekskritiek. Tekskritiek beoog onder meer die vasstelling, so ver as moontlik, van die beste brontekste van antieke dokumente. In die geval van die Bybel het die tekskritiek veral oor die afgelope eeu besonder verfynd en gespesialiseerd geraak, juis omdat dit vir gelowiges so buitengewoon belangrik is om so na as moontlik aan die oorspronklike bewoording van die Bybelse dokumente te kom. Hierdie ondersoek het onteenseglik bewys dat Textus Receptus ongelukkig baie gebreke vertoon.

Desiderius Erasmus, wat verantwoordelik was vir die grondvorm van die Textus Receptus, het vir die voorbereiding van sy gedrukte Griekse Nuwe Testament slegs ses manuskripte (sommige ook nog onvolledig) tot sy beskikking gehad. Onder groot druk van sy uitgewer, Frobenius van Basel, moes hy dit binne 6 maande gereed kry om 'n ander uitgewer voor te spring.  Sy heel oudste manuskrip (kodeks 1) was so laat as uit die 10de eeu, maar hy het dit boonop nie baie gebruik nie. Vir die Evangelies het hy net vier manuskripte gehad, die jongste daarvan uit die 15de eeu! Vir Openbaring het hy oor net een manuskrip (uit die 12de eeu) beskik, waarvan die laaste bladsy ook nog ontbreek het. Gevolglik het hy Openbaring 22:16-21 sommer eiehandig uit die Latynse Vulgaat na die Grieks terugvertaal! Dieselfde het met Hand 9:5b en 6a gebeur. Sy derde uitgawe (1522) het die basis geword van die sogenaamde Textus Receptus. Vanweë die talle foute in hierdie Griekse teks is dit dikwels hersien, onder meer deur Robert Estienne (Stephens/Stephanus) en Theodore Beza. Weens die haas waarmee dit voorberei is, die min en gebrekkige manuskripte tot sy beskikking en die nog primitiewe stand van die destydse tekskritiek, sou dit totaal misplaas wees om te beweer dat die Textus Receptus van Desiderius Erasmus, waarop die 1933/1953 Afrikaanse vertaling gegrond is, “die enigste, ware en korrekte” bronteks is. So 'n stelling berus op totale onkunde.

Daarteenoor is die gedrukte bronteks wat vandag vir Bybelvertalings gebruik word, die resultaat van internasionale samewerking tussen vakkundiges wat in die Nuwe-Testamentiese tekskritiek spesialiseer. Tekskritiek is die wetenskap wat daarna streef om op grond van die beskikbare teksgetuies 'n rekonstruksie van die oorspronklike geskrifte van die Nuwe Testament (die outograwe) te maak. Om so na as moontlik aan die oorspronklike teks van die Nuwe Testament te kom beskik ons oor drie groepe teksgetuies (elk bestaande uit verskeie dokumente): die Griekse manuskripte (handskrifte); vroeë vertalings van die Griekse Nuwe Testament en aanhalings deur die  kerkvaders.

Van hierdie drie groepe teksgetuies geld die Griekse manuskripte as die primêre bron. Die ou vertalings en die aanhalings is wel waardevol, maar tog in wese sekondêr (indirek). Die totale aantal Griekse manuskripte beloop tans om en by 5 894! Van tyd tot tyd word egter nog nuwe gegewens bekend gemaak. Vergelyk hiermee die skamele ses manuskripte – wat nog boonop van minder goeie gehalte was – waarop Erasmus sy uitgawe gebaseer het. (Dit gaan uiteraard nie bloot om getalle nie, maar veral om die kwaliteit van die betrokke manuskripte.)

Die oudste manuskripte was nie van perkament (diervelle) nie, maar van papirus (skryfmateriaal wat gemaak is van die vesels van 'n rietagtige plant). Die papiri (tans 127) word hoofsaaklik tussen die 2de en die 6de eeu gedateer en is meesal ouer as die oudste perkament manuskripte. Daarom staan hulle ook dikwels nader aan die verlore oorspronklike outograwe van die Nuwe Testament.

Perkament manuskripte word in twee groepe verdeel: 1) Unsiale/majuskels, dit wil sê manuskripte wat in hoofletters geskryf is. Van hulle is daar tans ongeveer 318 bekend, en hulle stam uit die 4de tot die 9de eeu. Beroemde unsiale is Codex Sinaiticus, Codex Alexandrinus, Codex Vaticanus, Codex Ephraemi Rescriptus en Codex Bezae Cantabrigiensis. 2) Die minuskels of manuskripte in kursiewe of kleinletterskrif. Daar is tans ongeveer 2 907 minuskels bekend, en hulle dateer uit die 9de tot die 15de eeu.

Samevattend: Met die talle uitstekende Nuwe-Testamentiese manuskripte tot ons beskikking waarvan sommige selfs, al is dit fragmentaries, tot die 2de en 3de eeue nC terugreik, gepaard met die gevorderde stand van die moderne teksevaluering, is ons vandag bevoorreg om ‘n baie beter bronteks voor ons te hê as die een wat Erasmus gehad het. Daarom sou dit absoluut onverantwoord wees om nog met die Textus Receptus te volhard.

Die vertalers van die 1933/1953 Afrikaanse Bybel was reeds destyds goed bewus van die beskikbaarheid van betroubaarder brontekste as dié wat die vertalers van die Nederlandse Statenvertaling gebruik het. Omdat die Statenvertaling egter so diep by Afrikaanssprekendes ingeburger was, het die vertalers doelbewus besluit om nie van die bronteks vir die Statenvertaling (die Textus Receptus) af te wyk nie. Eers moes die Bybeltaal van Nederlands na Afrikaans verander. Die oorgang na 'n nuwe bronteks sou vir later moes oorstaan.

Uit die bostaande is dit so duidelik soos daglig dat dit onwaar is om te beweer dat die brontekste wat die Bybelgenootskap vir Bybelvertalings gebruik “korrup en verdraai” is. Eweneens dat die Textus Receptus die beste bronteks sou wees.

Wat die verwyte van “weglatings” in die 1983-vertaling (teenoor die 1933/53 vertaling) betref, kortliks die volgende: Die studie van die betroubaarste tekste het duidelik aangetoon dat die gewraakte “weglatings” eintlik geen weglatings was nie, maar toevoegings tot die oorspronklike Bybelteks. Die neiging by oorskrywers van die Bybelmanuskripte was eerder om ter goedertrou sekere inligting of verduidelikings toe te voeg as om iets weg te laat. Wanneer hedendaagse vertalings dus sogenaamd “iets weglaat” is dit bloot om op grond van die beste manuskripgetuienis sodanige toevoegings te verwyder en so die oorspronklike teks te herstel. Dit stem ooreen met die beleid van die Bybelgenootskappe om slegs die beste en betroubaarste brontekste te gebruik.    

In die geval van die Ou Testament is vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling die vierde uitgawe van die Biblia Hebraica Stuttgartensia gebruik, uitgegee deur die Deutsche Bibelgeschellschaft, Stuttgart (1990), en vir die Nuwe Testament is die vierde uitgawe van die Greek New Testament gebruik, uitgegee deur die United Bible Societies en die Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart (1994). Juis omdat hierdie twee brontekste die betroubaarste tekste is waaroor ons beskik, het Die Kerklike Advieskomitee (Die Bybel in Afrikaans), wat die Bybelgenootskap in hierdie verband adviseer, hierdie tekste as vertalingsbasis vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling goedgekeur en aanbeveel.

Waar die Bybelgenootskap soveel erns met sy groot  verantwoordelikheid maak om toe te sien dat die Bybel en sy boodskap in al sy Bybelvertalings betroubaar weergegee word, is dit werklik hartseer en tot skade van die Koninkryk van God wanneer sy integriteit verdag gemaak word.

Bybelgenootskap van Suid-Afrika
Julie 2013

Hierdie dokument kan ook hier as pdf afgelaai word.

JSN Solid template designed by JoomlaShine.com