Daar doen tans e-posse die rondte wat beweer dat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika besig is of beplan om met die nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans, Christus uit die Ou Testament “uit te skryf” en dat die godheid van Christus “wegvertaal” word. Verder word ook gesê (en hierdie aanhalings staan woordeliks so in een van die skrywes) “[D]ie vertaling omskryf Jesus Christus die Seun van God as ’n gewone mens” en “elke Oosterse godsdiens, Hindo, Voorvaderlike geeste, Budistiese en Satanistiese gode word dan Gelyk aan Jesus Christus vertaal”. Daarom, so word betoog, gaan dit ’n “New Age” Bybel wees!

Die enkele saak waaroor dit gaan, is die vraag of woorde in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament aangehaal en op Jesus Christus van toepassing gemaak word, in die Ou Testament met hoofletters gedruk moet word. So byvoorbeeld lui die gedeelte in Jesaja 7:14 tot 16 in die 1953-vertaling “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.” Dit moet dan verander word om te lui “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n Seun baar en Hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal Hy eet as Hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. Want voordat die Seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.”

Die persone wat agiteer vir die gebruik van hoofletters in die Ou-Testamentiese tekste gaan dan ook so ver om te beweer dat, indien mense “die Name van Christus en die voornaamwoorde wat na Hom verwys, met kleinletters ... skryf, dan misken hulle vir Christus in die Skrif en misken hulle ook Sy Godheid”.

Om hierdie bewerings reg te kan beoordeel moet ’n mens net die volgende feite en vrae in berekening bring:

1.)    Die Griekse vertaling van die Ou Testament, naamlik die Septuaginta, wat ook die Bybel was waaruit die skrywers van die Nuwe Testament aangehaal het, gebruik nie hoofletters by enige van die tekste in die Ou Testament waaroor dit gaan nie. ’n Eienaam, soos Immanuel, word wél met ’n hoofletter geskryf. Beteken dit nou dat die Ou Testament wat ook die eerste Christene se Bybel was, Christus se godheid misken het en dat dit ’n “New Age” Bybel was?
2.)    Dieselfde vertaling, wat vir eeue die Bybel van gelowiges was, gebruik trouens nie eens ’n hoofletter vir God nie. Beteken dit dan dat die vertalers van die Septuaginta ook die godheid van God misken het?
3.)    Dieselfde geld vir die Latynse vertalings van die Bybel, die vertalings wat vir meer as ’n duisend jaar die Bybel van die kerk was! Beteken dit dat ons tóé al ’n “New Age” Bybel gehad het en dat Christus se godheid toe al misken is? Hoe is dit dan moontlik dat die kerk op grond van hierdie Bybel wat nie hoofletters gebruik in die besondere Ou-Testamentiese tekste nie, by die tweede ekumeniese konsilie van Konstantinopel, kon kom tot die belydenis dat Jesus “God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God” is?
4.)    Die Nuwe Testament in Grieks, wat dien en gedien het as bronteks vir al die vertalings van die Bybelgenootskap (ook die sogenaamde Textus Receptus wat die bronteks was vir die 1933- en 1953-vertalings) gebruik nie eens hoofletters in voornaamwoorde wat na Jesus van Nasaret verwys nie. Sou dieselfde fel oordeel oor hierdie bronteks uitgespreek word as wat by voorbaat oor die nuwe vertaling uitgespreek word?
5.)    Die Statevertaling van die Bybel, wat deur die Voortrekkers gelees is en wat hulle geloof gevorm het, is ook nie met hoofletters gedruk in die besondere gevalle van die Ou Testament nie. Dit het eers heelwat later in uitgawes van die Statevertaling  gebeur.
6.)    Die oorgrote meerderheid Bybels in die Westerse wêreld word ook nie met hoofletters gedruk nie. Sou die persone wat so verdoemend praat oor die nuwe vertaling, ook beweer dat Christus se godheid in daardie vertalings misken word en dat dit “New Age” vertalings is?
7.)    Die bewering dat die naam van Jesus in die Ou Testament “wegvertaal” word, is gewoon nie korrek nie. Eiename soos Immanuel word in die nuwe vertaling met ’n hoofletter gedruk. Na watter name sou die e-posskrywers dan verwys? Die naam Jesus word tog eers in die Nuwe Testament op grond van die verskyning van die engel aan Josef, aan hierdie Seun van God gegee.

Daar word ook in van die skrywes gewag gemaak daarvan dat daar Roomse invloed sou wees by die nuwe vertaling omdat die Rooms-Katolieke kerk ook meewerk in die sin dat daar vir hierdie kerk (en nie vir al die ander Afrikaanssprekende kerke nie) die Deutero-kanonieke boeke vertaal word. Besef die persone wat met hierdie stelling die nuwe vertaling in diskrediet probeer bring, dat die Deutero-kanonieke boeke vir baie meer as ’n duisend jaar deel was van die kerk se Bybel? Dit was Maartin Luther wat in die sestiende eeu eers in sy vertaling van die Bybel die Deutero-kanonieke boeke weggelaat het en wel om ’n baie eenvoudige rede: Daardie boeke was net in Griekse en Latynse vertalings beskikbaar en nie in Hebreeus nie. Luther se leuse was dat daar na die oorspronklike teruggekeer moet word. Hy het daarom die Joodse Hebreeuse tekste van die Ou Testament gebruik vir sy vertaling, soos wat ons trouens vandag nog doen in Protestantse kerke. Luther het gesê dit is goed om die Deutero-kanonieke boeke te lees, maar ’n mens het dit nie nodig vir jou saligheid nie. Waarom word daar dan nou, in die lig hiervan, stemming gemaak teen die nuwe vertaling as sou daar “Roomse invloed” wees?

Daar word ook soms uit dieselfde kringe as dié van die e-posskrywers, bewerings gemaak oor die brontekste wat vir die nuwe vertaling gebruik word, as sou dit vervals wees. Die grond vir hierdie bewerings is duidelik nie gegrond op wetenskaplike kennis of navorsing nie, maar word bloot gemaak omdat die jonger vertalings verskil van die 1933-vertaling wat in 1953 hersien is. Laasgenoemde vertalings word die maatstaf vir die beoordeling van elke ander vertaling waaraan die Bybelgenootskap sy hand waag. Erger nog, dit word ook gebruik as maatstaf vir die beoordeling van die brontekste! Navorsing van die brontekste is ’n uitgebreide wetenskap waarin daar gestreef word na die vasstelling van die beste brontekste, onder andere met die oog op Bybelvertaling. Dit kan nie gesê word van die sogenaamde Textus Receptus van Desiderius Erasmus waarop die 1933- en 1953-vertalings gegrond is nie. Die brontekste wat deur die Bybelgenootskap gebruik word, is die resultaat van intensiewe navorsing en is dieselfde as dié wat deur al die Bybelgenootskappe oor die hele wêreld gebruik word vir hulle amptelike vertalings.

Die hele debat oor Christus in die Ou Testament het wesenlik te doen met ’n mens se verstaan van die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament. Daar word gewoonlik sonder meer aanvaar dat aanhalings uit die Ou Testament wat ons in die Nuwe Testament aantref, aanhalings is van die Hebreeuse bronteks. Enige iemand wat Grieks en Hebreeus ken, sal egter by die nagaan van die tekste agterkom dat die aanhalings nie ’n vertaling van die Hebreeus teks is nie, maar dat dit aanhalings uit die Septuaginta, die Griekse vertaling van die Ou Testament, is. Dit beteken dat die Ou Testament wat deur die skrywers van die Nuwe Testament gebruik is, verskil het van die Ou Testament wat ons vandag ken en gebruik. Daar is in baie gevalle radikale verskille tussen die Septuaginta en die Hebreeuse bronteks wat vir Bybelvertalings gebruik word. In die geval van die boek Jeremia word bereken dat daar tot soveel as 6,000 verskille kan wees! Een van die bekendste gevalle is juis Jesaja 7:14 waar die Hebreeuse bronteks lees “Kyk, die jongvrou is swanger en gaan binnekort aan ’n seun geboorte gee, en sy sal hom Immanuel noem”. Die aanhaling in Matteus 1:23 “Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem”, is ’n aanhaling uit die Septuaginta. Hierdie feite word gewoonlik nie in ag geneem wanneer daar kritiek op nuwe vertalings gelewer word nie. Dit geld veral waar die 1933- en 1953-vertalings in sulke gevalle geneig was om die vertalings van die Ou- en Nuwe Testament met mekaar te laat rym, soos in Jesaja 7:14.

Die vraag of die Bybel die woord van God is, is nie afhanklik van ons dogmatiese besinning oor die Ou en die Nuwe Testament of van die dogmatiese konstrukte wat ons van die Bybel maak nie. Die Bybel is ook nie die woord van God omdat dit sonder enige weersprekings is of omdat dit wetenskaplik korrek sou wees in sy uitsprake oor die natuur of die geskiedenis nie. Die Bybel is die woord van God waar die Heilige Gees dit, nieteenstaande die weersprekings en foute wat ons daarin kan uitwys, gebruik om mense tot geloof te bring of mense se geloof te versterk in die een en enigste lewende God wat na ons gekom het in sy Seun Jesus Christus. Hy wat gekruisig is en uit die dood opgestaan het.

 

Prof Andries Breytenbach
Maart 2012

JSN Solid template designed by JoomlaShine.com