Die Griekse Nuwe Testament behels ongeveer 138 000 woorde. Daar word bereken dat daar tot 250 000 variante lesings in die manuskripte van die Nuwe Testament kan wees. Dit sou die indruk kon skep dat die teks onbetroubaar is, maar dit hang saam met die groot getal beskikbare manuskripte (presies dieselfde variant word in honderde manuskripte herhaal) en die feit dat die oorgrote meerderheid van die variante onbelangrike spelling- en taalverskille is. In werklikheid word minder as 5% van die Nuwe Testament deur hierdie verskille geraak.

Die grootste hoeveelheid verskille is te wyte aan sogenaamde "nonsense" lesings, opsigtelik onsinnige omruiling van letters of wegval van letters wat net nie raakgesien is nie, soos "a apple" wat in Engels "an apple" moet wees. In ander gevalle word die bepaalde lidwoord byvoorbeeld voor eiename weggelaat of die orde van woorde omgeruil sonder dat dit enige verskil in betekenis in die Griekse teks meebring.

Daar is wel 'n kleiner aantal variante wat 'n betekenisverskil maak, maar wat nie werklik goed verantwoord kan word nie. 'n Voorbeeld is 1 Tess 2:9 waar feitlik alle manuskripte "die evangelie van God" lees, terwyl 'n laat Middeleeuse manuskrip lees "die evangelie van Christus". Dit is heeltemal onwaarskynlik dat net hierdie een baie laat manuskrip reg sou wees teenoor die totale teksgetuienis van feitlik alle manuskripte.

Net ongeveer 1% van alle variante maak sin en sou moontlik in die oorspronklike teks kon gewees het. Dit moet dus deeglik oorweeg word. Rom 5:1 is 'n goeie voorbeeld waar net een letter in die Grieks 'n verskil in betekenis kan maak. Sommige manuskripte lees hier echomen (het ons vrede / is daar vrede), terwyl ander echömen lees (laat ons vrede hê). Omdat beide lesings wel in die teks en breër verband moontlik is, moet hier op tekskritiese gronde 'n beslissing geneem word.

Daar kan dus met groot vrymoedigheid gestel word dat geen Skrifwaarhede deur variante lesings aangetas word nie. Bepaalde leerstellinge mag op die oog af deur sommige variante beïnvloed word. Maar geen Skrifwaarheid berus op een enkele teks (of variante lesing) nie maar op die getuienis van die Skrif as geheel. Vergelyk byvoorbeeld die verwysing na 1 Joh 5:7-8 by die vraag waarom sekere teksverse in bepaalde vertalings ontbreek. Wanneer daar in die tekskritiek tussen variante gekies word, berus die keuse nie op 'n waardeoordeel oor die inhoud van die variante as sodanig nie, asof sommige variante inherent vals of teologies onbetroubaar sou wees nie. Dié lesing word gekies wat volgens tekskritiese kriteria waarskynlik die naaste is aan wat in die outograaf (oorspronklike teks van byvoorbeeld Paulus) sou gestaan het.

Daar is in die laaste tyd heelwat navorsing oor die tydperk van die papiri (vóór die groot 4de eeuse perkament manuskripte) asook oor die rol van mondelinge oorlewering gedoen. Dit blyk dat daar soveel ooreenkomste tussen p75 (3de eeu) en kodeks Vaticanus (4de eeu) is dat beide van 'n ouer en noukeurige manuskrip afstam. Die talle foute wat wel in p75 voorkom is die werk van 'n ervare en betroubare afskrywer, maar wat wel by tye agtelosig was, veral in sinne met 'n eenvoudige sinstruktuur. Moeiliker sinne is gewoonlik baie noukeurig oorgeskryf.

In die vroeë kerk het mondelinge oorlewering van die teks van die Bybel sonder twyfel nog 'n groot rol gespeel. Dit is daarom interessant om te let op Klemens van Aleksandrië († 215) wat 'n lang aanhaling uit Mark 10:17-31 gebruik in sy Quis dives salvetur (Watter ryke kan gered word) 4:4-10 en wat beslis die letterlike teks van die Markus wil aanhaal. Daar is heelwat veranderinge aan die teks van Markus: harmonisering van Markus se teks met ander Evangelies, gebruik van sinonieme, byvoegings tot en weglatings uit die teks. Die veranderings hang waarskynlik met niks anders saam nie as die snelheid waarmee Klemens dikteer het. Dit is duidelik dat die besonder noukeurige Klemens nie hierdie "kleiner" wysigings aan die teks as so belangrik beskou het dat hy dit laat korrigeer het nie en dat hy blykbaar aanvaar het dat sy lesers (wat die teks op grond van mondelinge oorlewering goed moes geken het), dit blykbaar ook nie as so belangrik sou beskou het nie. Dit bevestig dat die groot aantal kleiner wysiginge in die variante lesings in die vroeë kerk dalk nie so ernstig opgeneem sou gewees het nie.

JSN Solid template designed by JoomlaShine.com