Daar is nie 'n manuskrip wat as die Textus Receptus bekend staan nie. Die term Textus Receptus verwys gewoonlik na bepaalde gedrukte uitgawes van die Griekse Nuwe Testament wat basies berus op die eerste Griekse uitgawe van die Nuwe Testament wat op die mark beskikbaar was. Erasmus het binne tien maande op versoek van en onder groot druk van die Switserse drukker Frobenius die uitgawe voltooi wat in 1516 deur Frobenius in Basel gepubliseer is. Frobenius was besonder haastig omdat hy bewus was van 'n Griekse Nuwe Testament (wat as deel van die Complutensiese Veeltalige Bybel) reeds in 1514 deur die Spaanse kardinaal Ximenes gedruk is. Frobenius wou egter die eerste op die mark wees met 'n gedrukte Griekse Nuwe Testament. Omdat Ximenes se uitgawe tot in 1521 op Pouslike goedkeuring moes wag, het dit eers ná Erasmus s'n in 1522 verskyn.
Erasmus het slegs ses (sommige onvolledige) manuskripte tot sy beskikking gehad. Sy oudste manuskrip (kodeks 1) was uit die 10de eeu maar hy het dit nie baie gebruik nie. Vir die Evangelies het hy vier manuskripte gehad, en die oudste was so laat as uit die 15de eeu. Vir Openbaring het hy net een manuskrip (12de eeu) gehad waarvan die laaste bladsy ontbreek het. Hy moes dus die laaste ses verse van Openbaring sommer uit die Latynse Vulgaat terugvertaal na die Grieks sonder om enige Griekse manuskrip-getuienis beskikbaar te hê. Ook Hand 9:6 het hy so uit die Latynse Vulgaat na die Grieks terugvertaal en op hierdie wyse het dit deel van die Griekse teks geword. Erasmus se tweede uitgawe van 1519 was die basis van Luther se vertaling. Sy derde uitgawe (1522) het die basis geword van die sogenaamde Textus Receptus. Daar was talle foute in hierdie uitgawe en dit is dikwels hersien, onder meer deur Robert Estienne (Stephens/Stephanus) en ook Theodore Beza.
Stephanus se vierde uitgawe van 1551 en Beza se teks het gaandeweg as die Textus Receptus bekend geword, hoewel die term Textus Receptus eers in die voorwoord van die tweede uitgawe van die Elzevir broers se Griekse NT (1633) in Nederland gebruik is. Daar stel hulle dat dit die "teks (textum) is wat deur almal aanvaar (receptum) word en waarin niks verander of gekorrupteer is nie". So het hierdie toevallige aanspraak in hulle voorwoord die term geword waarmee na die tekstradisie verwys word wat basies teruggaan op Erasmus 'n eeu vroeër.