Dit hou verband met die feit dat kleinletters gebruik sal word in gedeeltes in die Ou Testament wat deur die Nuwe Testament as Messiaanse profesie verstaan word. Dit is nie 'n nuwe besluit nie, maar is reeds in die 1983-vertaling so gedoen. Vergelyk byvoorbeeld "My dienaar"(1983-vertaling) met "my Kneg" (1953-vertaling) in Jes 52:13. Dit is interessant dat die bekende Nederlandse Statevertaling ook nie hoofletters gebruik het in hierdie tekste nie.

Lees gerus verder wat die agtergrond hiervan is.

Die gebruik van hoofletters in Ou-Testamentiese gedeeltes wat in die Nuwe Testament as verwysings na die Messias aangedui word.

  1. Inleiding en oriëntering

    Die kerk het van die vroegste tye af sekere gedeeltes in die Ou Testament verstaan as verwysings na Jesus Christus en die werk wat Hy sou kom doen. Dit het trouens al in die heel eerste gemeentes gebeur en die spore daarvan lê duidelik in die Nuwe Testament.

    Die vertalers van die Nederlandse Statevertaling het telkens in die Ou Testament met notas in die kantlyn aangetoon watter tekste in die Nuwe Testament aangedui word as verwysings na die Messias. Die vertalers het egter nie hoofletters gebruik in die gedrukte teks van die Statevertaling nie. Selfs ook in effens latere uitgawes van die Statevertaling wat nie van notas of voetnote voorsien was nie, word daar nie hoofletters gebruik in Ou-Testamentiese tekste wat volgens die Nuwe Testament op die Messias betrekking gehad het nie. Vanaf die begin van die twintigste eeu (ons is onseker van die presiese uitgawe se datum) toe voetnote en kantaantekeninge heeltemal weggelaat is, 1 is die gebruik egter gevestig om gedeeltes in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament as Messiaanse verwysings aangedui word, in die vertaling weer te gee deur hoofletters in die setwerk te gebruik. Dit is gedoen in die geval van benamings (vgl bv Jesaja 9:5) en ook in die geval van direkte pronominale verwysings (dit wil sê "hy" en "hom") wat volgens die Nuwe Testament op Jesus Christus betrekking gehad het. So byvoorbeeld is die woord "kneg" in Jesaja 53 in die weergawe van 1892 nog met 'n klein letter gedruk, maar in die uitgawes van ná 1900 word dit met 'n hoofletter gedruk asook die pronominale verwysings na die "kneg". Die drie Nederlandse vertalings wat tans baie wyd in gebruik is in die Nederlandssprekende wêreld, naamlik Bijbel Vertaling 1951, De Bijbel (Willibrord hersiene uitgawe 1995) en De Nieuwe Bijbelvertaling 2004, gebruik egter geen sodanige hoofletters in Jesaja 53 nie. Die 1933-Afrikaanse vertaling, sowel as die hersiene weergawe van 1953 het die gebruik wat die Statevertaling ná 1900 gevestig het, nagevolg. Die Nuwe Afrikaanse vertaling van 1983 het egter teruggekeer na die gebruik van klein letters soos wat dit vir eeue gegeld het, en het slegs benamings of titels wat as eiename gebruik is, met hoofletters gedruk.

  2. Wat van die bronteks en ander vertalings?

    Dit is algemeen bekend dat die Hebreeuse taal nie enige "hoofletters" gebruik nie en dat slegs in enkele uitsonderlike gevalle (bv Deut 6:4) van 'n paar vergrote letters gebruik gemaak word in die gedrukte weergawes van die Hebreeuse teks.

    Die oudste volledige vertalings van die Ou-Testamentiese boeke is natuurlik in Grieks gedoen. Hierdie vertalings wat in die Septuaginta neerslag gevind het, was die Heilige Skrifte van die Nuwe-Testamentiese skrywers. Dit is onder andere duidelik uit Ou-Testamentiese aanhalings in die Nuwe Testament. Grieks het wel vanaf 'n sekere stadium die moontlikheid gehad om "hoofletters" te gebruik. So byvoorbeeld is Griekse tekste van die Septuaginta vanaf die vierde tot die negende eeu volledig in hoofletters geskryf (in die sogenaamde majusculus manuskripte). Sedert die Middeleeue was die gebruik van klein letters (in die sogenaamde minusculus manuskripte) weer in gebruik. Dit is opvallend dat nie in een enkele geval daar in die Griekse vertalings van die Ou Testament 'n verskil in skryfwyse is in gedeeltes wat in die Nuwe Testament as verwysings na of beloftes van die koms van die Messias aangedui word nie. Ook in die uitgawe wat vandag algemeen beskou word as 'n betroubare weergawe van die Ou Testament in Grieks wat die vroeë kerk oor baie jare gebruik het, naamlik dié van Alfred Rahlfs, word hoofletters gebruik vir eiename, maar nie vir voornaamwoorde in dele soos Jesaja 53 nie. Dit geld trouens vir alle dele in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament Messiaans gedui word2. Dieselfde geld ook vir die Latynse vertalings wat eeue lank in die kerk gebruik is.

    Selfs in die vertaling van Martin Luther en die hersiene weergawes daarvan, word hoofletters nie gebruik by voornaamwoorde wat verwys na die "kneg" in Jesaja 53 nie. Dieselfde geld ook in 'n baie hoë mate vir Engelse vertalings. Van die talle Engelse vertalings wat algemeen beskikbaar is,  gebruik die volgende nie hoofletters nie: Contemporary English Version, English Standard Version 2001, Good News Bible, King James, The Message, The Net Bible, The New American Bible, New Century Version, New International Version, New Jerusalem Bible, New Living Translation, New Revised Standard Version, Revised Standard Version, 1890 Darby Bible en American Standard Version. So ver vasgestel kon word, gebruik slegs die New American Standard Bible, New King James Version, Young's Literal Translation en die Holman Christian Standard Bible hoofletters in Jesaja 53.

    Dit is dus duidelik dat die gebruik van hoofletters in die Ou Testament om vir lesers aan te dui dat 'n bepaalde gedeelte in die Nuwe Testament aangedui word as 'n verwysing na Jesus Christus (naas die paar Engelse vertalings) hoofsaaklik beperk is tot uitgawes van die Nederlandse Statevertalings wat ná 1900 gedruk is, sowel as die Afrikaanse vertaling van 1933 (hersien in 1953), wat die gebruik van die Statevertalings van ná 1900, nagevolg het.

  3. Die Afrikaanse Bybelvertalingsprojek waaraan tans gewerk word

    By die samestelling van die Werkboek waarin die praktiese uitvoering van die Vertaalopdrag vir Die Bybel: 'n Direkte Vertaling (BDV) vooraf beplan is, is die hele vraag oor Ou- Testamentiese gedeeltes wat in die Nuwe Testament as beloftes van of verwysings na Christus gesien word, volledig bespreek. Die samestellers van die Werkboek aanvaar dat die Nuwe Testament sonder enige twyfel op bepaalde plekke in die Ou Testament naas die gewone betekenis ook 'n "verborge" of "dieper betekenis" 3 as verwysings na Christus en dit wat Hy sou kom doen, gesien het. Die vraag wat dus by die samestelling van die Werkboek op die tafel was, was die volgende: Moet die "verborge" of "dieper" betekenis van 'n teks (of selfs net enkele woorde) in die Ou Testament neerslag vind, met die gevolg dat die betekenis in die Ou-Testamentiese verband op die agtergrond skuif; of moet die betekenis in die Ou-Testamentiese verband vertaal word met die gevolg dat die Nuwe-Testamentiese verstaan van die teks, nie aangedui word nie? Dit was duidelik dat dit onmoontlik is om sowel die betekenis in die Ou-Testamentiese verband as die dieper betekenis tegelyk te verwoord of in druk aan te dui in die vertaling. Buitendien is 'n vertaling wat slegs die Nuwe-Testamentiese betekenis probeer weergee dan nie meer 'n getroue weergawe van die Ou-Testamentiese bronteks nie. En daarvan (naamlik dat dit 'n getroue weergawe van die bronteks moet wees) wil die vertalers en die Bybelgenootskap nie een oomblik afwyk nie.

    Die probleem kan kortliks geïllustreer word aan die hand van 'n voorbeeld. In Hosea 11:1 staan daar die bekende woorde (volgens die 1953-vertaling): "Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep." Dit verwys sonder enige twyfel na die twaalf stamme van Israel wat deur Moses uit Egipte uitgelei is. Dit is die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1, en in die 1953-vertaling is "seun" tereg nie met 'n hoofletter gedruk nie. Volgens Matteus 2:15 bevat Hosea 11:1 egter 'n profesie wat verwys na die kind Jesus se terugkeer uit Egipte saam met Josef en Maria ná die dood van Herodes. Op grond daarvan het die vertalers in 1933/53 en in 1983 "Seun" in Matteus 2:15 met 'n hoofletter laat druk. Dit is egter onmoontlik om die teks in Hosea 11:1 deur die gebruik van hoofletters vir die leser as 'n verwysing na Christus aan te dui sonder verlies van die gewone betekenis in die verband van Hosea 11:1. Dit is inderdaad nie moontlik om sowel die betekenis in die verband van Hosea as die dieper betekenis in die verband van die Bybel as geheel in 'n vertaling van die Ou Testament gelyktydig in taal, asook setwerk (hoof- en kleinletters) uit te druk nie. Daar is baie ander gevalle wat as voorbeelde sou kon dien, onder andere Efesiërs 5:31 waar die skrywer Genesis 2:24 aanhaal en dan in vers 32 stel dat daar 'n misterie, dit wil sê 'n verborge betekenis, in daardie woorde opgesluit lê.4 Die skrywer sê egter ook baie duidelik dat die gewone betekenis steeds geld (vgl vs 33). Alhoewel dit nie na Christus verwys nie, sou die apostel Paulus se verwysing na Sara en Hagar in Galasiërs 4:20 tot 30 ook as voorbeeld kon dien van 'n simboliese (en in hierdie geval allegoriese) betekenis wat in die Nuwe Testament aan die Ou Testament geheg word. Iets wat immers nie in die teks (taal en setwerk) van 'n vertaling van die Ou Testament verwoord of aangedui kan word nie.

    Omdat die samestellers van die Werkboek egter wel die Nuwe-Testamentiese verstaan van bepaalde gedeeltes in die Ou Testament eerbiedig, is besluit om in die Afrikaanse vertaling waaraan tans gewerk word, al daardie gevalle waar die Nuwe Testament 'n verwysing na Christus in 'n teks of woorde uit die Ou Testament sien, in die Ou Testament met 'n voetnoot te merk. Sodoende word die leser se aandag pertinent gevestig op die Nuwe-Testamentiese verstaan van die bepaalde teks of woorde en dí­t sonder verlies van die betekenis in die Ou-Testamentiese verband. Daarmee word in 'n sekere sin terugbeweeg na die gebruik wat die vertalers van die Statevertaling aanvanklik gevestig het. Hierdie benadering geld slegs daardie gevalle waar in die Nuwe Testament hierdie "dieper" betekenis aangedui word en beslis nie daardie gevalle waar ander interpreteerders of dogmatici simboliese of dieper betekenisse in die Ou Testament vind nie.

  4. Die verskil tussen dogmatiese besinning en vertaling

    Elkeen wat al sy of haar hand gewaag het aan die vertaling van ou tekste uit 'n ander kulturele omgewing, sal weet dat interpretasie van daardie tekste by die voorbereiding van die vertaling onvermydelik is. Dit word vandag ook allerweë erken dat niemand sonder enige voorveronderstellings kan vertaal nie. Elke vertaler moet daarom ook bewus wees van die gevare verbonde aan eie voorveronderstellings en dogmatiese oortuigings, veral in die geval van religieuse tekste waar die dogmatiese oortuigings van die vertaler baie maklik die teks iets anders sou kon laat sê as wat werklik in die bronteks geskryf staan.

    'n Voorbeeld hiervan is Genesis 3:15 ("Hý sal jou die kop vermorsel en jý sal hom in die hakskeen byt". Die woord "vermorsel" (in Hý sal jou die kop vermorsel", vgl die 1953-vertaling) is geïnterpreteer as 'n belofte van Jesus Christus se toekomstige oorwinning oor die slang, naamlik Satan. Sodanige interpretasie van die teks hou egter nie rekening daarmee dat die Hebreeuse werkwoord wat met "vermorsel" vertaal is, dieselfde is as die werkwoord wat die aksie van die slang beskryf nie (met ander woorde die woord "byt" in "jý sal hom in die hakskeen byt"). Die Hebreeuse werkwoord wat in albei gevalle gebruik word (naamlik shuf) beteken "beetpak" of "aanval". Daarom het die vertalers van die Septuaginta ook in albei gevalle presies dieselfde werkwoord gebruik. Die vertalers van die 1933-vertaling het, nieteenstaande die feit dat die een Hebreeuse woord met twee verskillende werkwoorde vertaal is (nl "vermorsel" en "byt") ook nie Genesis 3:15 as 'n verwysing na Jesus Christus verstaan nie (vgl die gebruik van die kleinletter "hom" in "jý sal hom in die hakskeen byt").

    Uit hierdie voorbeeld is dit duidelik dat dogmatiese besinning in die lesingsaal en op die kansel sy plek het, maar dat dit vermy moet word by die vertaling van die Bybel,5 iets wat immers ook deur verskeie vertaalteorieë aangedui word. Die Werkboek van die BDV bevat daarom die volgende bepaling:

    "Teologiese kommentare moet egter met omsigtigheid hanteer word aangesien die gevaar bestaan dat die teologiese oortuigings wat in die kommentaar neerslag gevind het, dominant kan word in die verstaan van die teks, terwyl dit die bepaalde tekseenheid in sy unieke wêreld en met sy unieke teksaanbod is wat bepalend behoort te wees. Die teks is belangriker as die dogmatiese besinning daaroor. Getrouheid aan die bronteks is van die uiterste belang en die eksegeet moet deeglik bewus wees van eie hermeneutiese voorveronderstellings."

  5. Samevatting

    In die lig van die voorafgaande is dit duidelik dat

    • vertalers bewus moet wees van die gevaar van eie voorveronderstellings,

    • daar 'n verskil is tussen die bronteksgetroue vertaling van 'n teks en dogmatiese besinnings oor 'n teks,

    • die betekenis van 'n teks in sy Ou-Testamentiese verband en die moontlikheid wat die teks bied tot 'n simboliese interpretasie of die "dieper" betekenis wat die Nuwe Testament daarin gesien het, nie gelyktydig in 'n vertaling weergegee kan word nie,

    • die gebruik om met hoofletters bepaalde gedeeltes in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament as verwysings na die Messias aangedui word, as sodanig te merk, in die vertaaltradisie waarby Afrikaanse vertalings aansluit, 'n baie beperkte omvang het, naamlik slegs 'n paar Engelse vertalings, die gedrukte Nederlandse Statevertalings van ná 1900 en die Afrikaanse vertaling van 1933 asook die hersiene uitgawe van 1953.

  6. Ten slotte

    Die besluit om in die Afrikaanse vertaling waaraan daar tans gewerk word, nie hoofletters te gebruik vir die merk van bepaalde dele in die Ou Testament wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word nie, maar om dit wel in die vertaling van die Ou Testament met voetnote aan te dui, is dus met groot verantwoordelikheid geneem en met in ag neming van die geskiedenis van vertalings uit die bronteks, van vertaalteorieë en van die opdrag aan die vertaler om die bronteks getrou te vertaal en nie die primêre betekenis óf aan te tas óf te verskraal nie.


    Enige bewering dat daar 'n doelbewuste poging by die medewerkers aan die huidige Afrikaanse Bybelvertalingsprojek is om "Christus uit die Ou Testament te verwyder" is onwaar en oningelig. Dit hou nie rekening met die feite wat op die tafel is nie.

 

1

Die vraag na weergawes van die Statevertaling wat nie so dik en onhanteerbaar was nie, het waarskynlik hierdie weglatings genoodsaak.

2

Vgl bv Jesaja 7:15

3

Die woorde "dieper betekenis" is 'n breë aanduiding vir wat in die Nuwe-Testamentiese uitleg van die Ou Testament as profesie, dit wil sê belofte-vervulling (vgl Mat 1:22-23) verstaan, of ook as tipologie en allegorie uitgelê word (vgl vir laasgenoemdes bv Rom 5:14 en 1 Kor 10:1-4).

4

In Grieks word die woord mustërion gebruik wat in Latyn met sacramentum vertaal is. In die Rooms-Katolieke sowel as Protestantse kerklike tradisies is dit verstaan as 'n verwysing na die huwelik. Uit die konteks is dit egter duidelik dat dit eerder na die woorde in Gen 2:24 verwys.

5

'n Eerlike vertaler kan byvoorbeeld vas oortuig wees daarvan dat die Heilige Gees die skrywers van die Nuwe Testament gelei het in hulle verstaan van die Ou Testament, maar sal dit nie in die vertaalde teks van die Ou- of Nuwe Testament "inskryf", tensy dit duidelik in die bronteks staan nie.

JSN Solid template designed by JoomlaShine.com