In die 1933/53-vertaling lui die bekend frase in 1 Kor 13:1: "'n klinkende metaal" en in die 1983-vertaling " 'n stuk klinkende metaal".

In die Proefvertaling: Afrikaanse Bybelvertalingsprojek deur die Bybelgenootskap (2008) is die frase " 'n klinkende metaal" (1 Kor 13:1) vertaal as " 'n galmende ghong". Ná indringende oorweging van die reaksies wat hierop ontvang is na die publikasie van die Nuwe Testament en Psalms: 'n Direkte Vertaling (2014), asook die verdere kommentaar van kerklike en ander lesers (in Fase 3) lui dit tans:  'n weergalmende ghong met die volgende voetnoot: "Dit verwys moontlik na akoestiese vase van brons wat in teaters gebruik is."

In die Woordeboek van die Afrikaanse Taal lui die inskrywing vir ghong soos volg:

1a (musiek) Musiekinstrument by die Maleiers en die Chinese in gebruik, van 'n legering van koper en tin gemaak, bestaande uit 'n breë, ronde metaalskyf, plat of met halfbolvormige welwing in die middel, en met opstaande kante, wat dit laat lyk na 'n vlak bord met 'n regop rand; dit word aan 'n koord of in 'n raam gehang, sodat dit los swaai en 'n harde, deurdringende, nagalmende klank voortbring wanneer daarop geslaan word.
b Hierdie musiekinstrument, ook nou in die Weste gebruik as 'n vaste onderdeel van die slagwerk van 'n volledige orkes, bespeel met 'n klopper of trommelstok, wat met leer bedek is of met materiaal wat wissel na gelang van die klankkwaliteit wat verlang word; tamtam: Die piep, dreun en kreun van die ander instrumente is telkens deur die bronsgeboem van die ghong onderbreek. Hy hanteer ghong en klopper op meesterlike wyse. Wanneer die poukenis die ghong slaan.

2 Sinjaalinstrument, ooreenkomstig sy oorspronklike bestemming gebruik o.a. in hotelle en private wonings om tot maaltye op te roep, in teaters as teken dat die opvoering begin, en in skole, waar ook ander voorwerpe soms daarvoor gebruik word, as sinjaal by opening en sluiting, by pouses en tussen die verskillende lesure in: As die ghong slaan, moet almal binnekom.

Daar is talle afbeeldings van ghongs beskikbaar. Dit is dikwels 'n ronde instrument van metaal, met 'n interessante geskiedenis van gebruike deur die eeue heen. Die ghong word onder meer ook by tempels gebruik, en in ons eie konteks is dit ook vroeër in treine gebruik om etes mee aan te kondig.

Waarvan in 1 Kor 13 gepraat word, is egter iets heel anders. Die Griekse woorde chalkos echōn kan letterlik vertaal word: "koper/geelkoper/brons + galmend/weergalend/wat eggo". Die frase word dan ook heel verskillend in vertalings weergegee:

  • Hersiene Statevertaling: klinkend koper;
  • NBG51: schallend koper;
  • Willibrord: galmend bekken;
  • Groot Nieuws Bijbel: schetterende trompet;
  • NBV: dreunende gong.
  • KJV: sounding brass;
  • CEB:  clanging gong;
  • CEV ESV GNT92 NET NRSV NLT: noisy gong;
  • CSB ESV REB: sounding gong;
  • NIV: resounding gong
  • Gute Nachricht Bibel: dröhnender Gong.

Waar die frase chalkos echōn volgens sommige verklaarders moontlik na 'n drom of trompet sou kon verwys, is daar egter geen aanduiding dat dit in die tyd van die Nuwe Testament na 'n musiekinstrument verwys het nie. Dit verwys wel soms na wapenrusting, messe, geld, kookpotte of -ketels, spieëls of tablette. Die Romeinse argitek, Vitruvius, beskryf egter in sy boek oor argitektuur in 27 vC vase van brons wat in teaters gebruik is om as klankversterkers vir akteurs en sangers te dien. Waar daar vroeër houtpanele gebruik is om klank te versterk, het akoestiese vase van brons later in gebruik gekom. Daar is talle voorbeelde hiervan gevind wat uit daardie tyd dateer. Die akoestiese vase is dikwels in nisse teen die agterkant van die verhoog of teen die agterste muur van die teater geplaas, en soms op verskillende toonhoogtes gekalibreer om 'n volle oktaaf te verteenwoordig. In groter teaters was daar selfs akoestiese vase in drie rye nisse bo mekaar geplaas. Hierdie klankversterkers, sou dus "weergalmers" genoem kon word, 'n woord wat tans nie bestaan nie. Soms is vase is gebruik om selfs donderweer te verklank.

Die illustrasie hieronder is van 'n mosaïekpaneel uit Pompeii waarop 'n Griekse bosgod-drama verbeeld word. Die boonste gedeelte van die oordekte suilegang se fasade/voorkant vertoon iets wat waarskynlik vier brons akoestiese vase was. Uit die literatuur blyk dit dat die uitbeelding waarskynlik nie heeltemal korrek is nie, aangesien die vase gewoonlik ongeveer 'n meter hoog en agter in die teater of agter op die verhoog aangebring is.

Echo vase

Die ander afbeelding is van die ronde soort ghongs wat meer algemeen bekend is.

 ghong

 

JSN Solid template designed by JoomlaShine.com